Entrance: The entrance fee is JUST R3 per person!
Date: 23 November 2025
Times:
Information: Time: Between 14h00 – 16h00! Die
toekoms van Afrikaans is deesdae ’n onderwerp wat baie aandag geniet en vir
diegene wat passievol is oor hulle taal en kultuur, is dit ’n saak waarvoor
hulle sal veg tot die bitter einde. Hierdie
passie is presies wat die musikant en liedjieskrywer, Muller Brandt, se eerste
Afrikaanse enkelsnit – MOEDERTAAL – geïnspireer het en hy wil graag hê dat dit
die nodige emosie by luisteraars moet ontlok. “Afrikaans
word meer as ooit bedreig en ons kan nie agteroor sit en kyk terwyl ons taal
van ons af weggevat word nie. Ons moet baklei en opstaan vir ons moedertaal,”
verduidelik die sanger. “Ek is lief vir ons taal en kan nie myself ’n toekoms
voorstel waarin my kinders en kleinkinders nie weet wat Afrikaans is nie. Ek
gebruik my stem en talent om ’n bydrae te maak.” Volgens
Muller, wat dié treffende snit saam met Douvoordag se Jattie de Beer geskryf
het, kan dit beskryf word as ’n eg patriotiese liedjie, met lirieke wat met die
hart praat. “Dit gaan luisteraars herinner aan hoe belangrik hierdie saak is en
dis hoekom hulle dit gaan geniet.” Jattie
de Beer was ook die regisseur van die besonderse video wat in Hartebeespoortdam
deur AGP Media verfilm is. “Die konsep van die video is nie uniek nie. Ek wou
die boodskap van die lied op ’n eenvoudige manier kommunikeer deur ’n gesprek
te voer met die kamera. Ek voel dat dit juis hierdie eenvoud is wat dit maklik
maak om op die lirieke te fokus,” deel hy. MOEDERTAAL
is die eerste vrystelling vanaf sy komende album, Brand die Skepe, wat in
September 2022 vrygestel word en hy sien uit daarna om hierdie juweel met die
publiek te deel. Muller
Brandt het in Pretoria grootgeword en is reeds twaalf jaar in die musiekbedryf
doenig. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat
en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie. Dié
dertigjarige kunstenaar meen dat Theuns Jordaan die grootste invloed gehad het
op sy eie styl, maar vind ook aanklank by musikante soos Kris Kristofferson,
Johnny Cash, Elvis Presley, Boney M, Bryan Adams, Bon Jovi, John Mellencamp,
Neil Diamond en Luke Combs. “Goeie
talent, gemeng met goeie karakter is die sleutel tot ’n lang en gesonde
loopbaan. Mense inspireer my nie met talent nie, maar met goddelike karakter,”
sê hy. “Ek beskou myself as ’n denker en dit het my lank gevat om nie alles te
oordink wanneer dit by skryf kom nie. Alles wat jy skep hoef nie diep te wees
nie. Alhoewel die meeste van wat ek skryf aan die dieper kant is, glo ek dat
musiek se krag van so aard is dat selfs die ligste liedjies ’n mens kan laat
beter voel. As iets werk, dan werk dit. As ek dit sing en dit voel reg, dan
sing ek dit.” Die
musiekbedryf het vir dié veelsydige sanger geleer dat jy jouself kan verloor as
jy nie weet wie jy is nie, dat jy jouself nie met ander moet vergelyk nie en
dat jy nooit moet vergeet wat regtig belangrik is nie. MOEDERTAAL beklemtoon
hierdie sentiment en is een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy
dit vir die eerste keer gehoor het.