Entrance: The entrance
fee is JUST R3 per person!
Date: 25 January 2025
Times:
Information: Time: 14h00
– 16h00! Sharoney word reeds vir ’n dekade lank geken aan haar borrelende persoonlikheid.
Haar liefde vir die lewe is net so indrukwekkend soos die passie en talent
waarmee sy elke liedjie wat sy opneem aanpak... niks het intussen verander nie
en sy bewys dit weereens met die heruitreiking van haar debuut-enkelsnit, Een Keer, ter viering van
die afgelope tien jaar. Die liedjie is in 2013 deur Hugo Ludik geskryf as
haar debuut en die 2024-weergawe is deur Ferdinant Skead aangepas om elke
sokkieliefhebber se voete behoorlik te laat jeuk. Sharoney
sê min dinge het die afgelope dekade verander en dat musiek nog steeds haar
hart warm laat klop. Sy vertel dat Een Keer altyd haar eerste liefde sal
bly, alhoewel haar heel eerste opvatting van die lirieke met tyd verander het. “Wanneer
jy jonk is dink jy dat liefde aan ’n persoon gekoppel moet word, maar namate jou
reise om die son vermeerder, verander die ‘gesig’ van liefde.” Hierdie
ronde beteken Een Keer vir haar daardie EEN ding in die lewe wat altyd
joune sal bly wanneer dit eers in jou hart kom nesskop... en dis presies hoe sy
oor haar musiekloopbaan en al sy fasette voel. Die liedjie is egter nie die enigste ding in haar
lewe wat ’n nuwe baadjie aan het nie. Sy glo nog altyd in EEN kans... EEN geleentheid
wat die trajek van jou lewe ten goede kan verander en sy verwys borrelend na
die destydse Ghoema-nominasies vir haar debuut-album In Ons Fairytaile as voorbeeld... “Daardie nominasie het my lewe
verander!”, lag sy. Hierdie jong vrou is geen vreemdeling wanneer dit
by verandering kom nie en is nie bang om die geleenthede aan te gryp wat oor
haar pad kom nie. Sy het sedert haar toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf,
aan die einde van haar matriekjaar in 2013, as naaswenner uit ’n realiteitsreeks
gestap, haarself gekwalifiseer as grimeerkunstenaar, ’n BA-graad in kommunikasiewetenskappe
verwerf en meer onlangs haar honneursgraad in mediastudies voltooi. Sy vertel geesdriftig dat sy hierdie gereedskap eersdaags
gaan inspan wanneer sy die korporatiewe wêreld betree. Eie aan haar waaghalsige
aard, vertel sy dat die musiekbedryf elke bang haar van jou kop verwyder en dat
sy dit nog EEN KEER gaan waag met die aanvaarding van ’n posisie as bemarkings- en geleentheidskoördineerder vir ’n
baie bekende handelsnaam. Hiermee saam trek sy self ’n nuwe baadjie aan, en met
’n paar hofskoene en ’n aktetas in die hand beplan sy om haar merk te maak. Sy sê haar geloof lê steeds in die belofte van Jeremia
29:11 en deesdae besef sy dat dié planne baie groter is as wat haar wildste
gedagtes ooit was. Sy verduidelik vinnig dat dit nie die einde van
haar musiek is nie, maar wel die begin van ’n gediversifiseerde leefstyl waarin
al die liefdes van haar lewe vir EEN KEER hande vat. Sy is baie opgewonde oor
haar toekoms as musikant en nuwe rol as besigheidsvrou. Met die selfvertroue van ’n volwassene voltooi
Sharoney haar metamorfose van jong meisie na vrou en die vonkel in haar haselneut-oë
herinner jou dat sy niks halfhartig aanpak nie... ook nie hierdie nuwe seisoen
van nuwe geleenthede nie, want vir haar is haar liefdes wat in die sterre
neergeskryf is meer as genoeg tot die einde van dae...